
Ons begin vandag ’n reeks wat ek noem Vergete waardes.
In die volgende 3 weke gaan ons kyk na 3 waardes wat ek dink geweldig skaars geword het in die wêreld waarin ons leef. Ons kyk na Lojaliteit, Integriteit en Dankbaarheid.
Vandag: Lojaliteit. Dit is seker een van die waardes wat die laaste dekade of so die meeste in die slag gebly het. Die meeste mense het geen sin vir lojaliteit meer nie.
Dislojaliteit is ’n groot probleem vandag. Wie sal met my saamstem?
Nou, wie van julle sal julle basies as ’n lojale persoon beskou?
Kan jy die spanning hier sien? Ons sê aan die eenkant lojaliteit is ’n groot probleem in die wêreld. Aan die ander kant beweer feitlik almal dat hulle lojaal is. Dit bring my by die eerste punt wat ek wil maak vanoggend:
1. Dislojaliteit is baie moeilik om in ’n spieël te sien
Hier is hoe lojaliteit meestal werk: ‘Ek is lojaal teenoor jou maar as ek ooit nie is nie is dit omdat jy dit verdien, omdat JY my geforseer het om dislojaal te wees.’
MAAR, as jy nie lojaal teenoor my is nie, dan is dislojaliteit ’n groot probleem.
Dit is verskriklik moeilik om in die spieël te sien.
Hoe maklik is dit nie in vriendskap of in enige verhouding dat ons basies lojaal is nie.
Maar wanneer daar iets gebeur wat ons kan impliseer of in ’n swak lig stel, dan sal ons vinnig iemand anders blameer of die vinger na die ander persoon toe wys.
Toe ek ’n student was, het ek ’n buurtwag besigheid gehad in die nag.
En soos studente maar is, was ons ongelooflik verantwoordelik en soet in die nag ure.
Ons het die ou mense bang gemaak, petroljoggies laat glo dat daar spoke is, chloor bomme gebou en sulke klein goedjies.
En wanneer die polisie of gewapende reaksie opdaag dan weet ons natuurlik van niks wat gebeur nie, ons het hulle ook gesien, maar hulle is so vinnig daar weg…
Ek kan jou heeldag vertel dat ek ’n lojale mens is maar in ’n oomblik van realiteit sal ek meer lojaal teenoor myself wees. Is ons nie so nie? As jy in die N.T. kyk is daar iemand wat uitstaan bo almal wat beweer het dat hy lojaal teenoor Jesus is: Simon Petrus. Oor en oor het hy gesê, Jesus ek het jou rug toegemaak, ‘I’m your man’, al hierdie ander ‘loosers’ sal U miskien verlaat maar my middel naam is ‘Lojaliteit’.
Matt. 26:33-35 “Petrus verseker Hom toe: “Al laat almal U in die steek – ék sal dit nooit doen nie.” Jesus antwoord hom: “Glo My, Petrus, vannag nog, voordat die haan kraai, sal jy drie maal ontken dat jy my dissipel is.” Petrus sê toe vir Hom: “Al moet ek saam met U sterf – ek sal dit beslis nooit doen nie!” Al die dissipels het dieselfde verklaar.” NLV
Petrus is bereid om sy lewe daarop te sit en te sê dat hy nooit dislojaal teenoor Jesus sal wees nie. Hy sê, ek is volkome lojaal teenoor U, Jesus. As jy die verhaal ken dan weet jy voor die aand om was, het 3 verskillende mense na hom toe gekom en gesê: “Jy was mos saam daardie Jesus ou, jy is een van hulle.”
En Petrus se reaksie was: “Jesus wie?” “Waarvan praat julle?” “Ek ken nie ’n Jesus nie.”
Na die 3de een het ’n haan gekraai en het hy die besef gehad: Ek het gesê ek is lojaal maar ek was dislojaal teenoor die mees lojale Persoon wat ooit geleef het. Nie een keer nie, drie keer en dan sê die Bybel:
Matt. 26:75 “Daarop het hy buitentoe gegaan en hartstogtelik gehuil.” NLV
Hier is wat ons moet verstaan, skryf dit neer:
2. Ware lojaliteit moet bewys word, nie gesê word nie.
Dit is nie genoeg om dit te sê of te impliseer nie, dit moet bewys word.
Spr. 20:6 “Baie mense sal voorgee dat hulle lojale vriende is, maar waar is daar iemand wat regtig betroubaar is?” NLV
In Engels is daar ’n uitdrukking: “Not just to talk the talk, but to walk the walk.”
Te dikwels sien ons vandag mense wat sê dat hulle iets ondersteun maar as daar moeilikheid kom of dinge begin teen hulle draai verander hulle hul opinie so vinnig soos jy kan sê ‘mes’. Ek lyk my al wat deesdae gesê hoef te word, is: ‘jammer maar dinge het anders uitgewerk as wat ek gedink het.’
Dit is nie in die hart van Christenskap nie.
In die Bybel is daar ’n baie mooi storie van lojaliteit en ek glo nie jy sal dit ken nie.
Daar is baie bekende stories soos Dawid en Jonatan maar een van die mooiste is Ittai.
Koning Dawid het ’n seun Absalom gehad en Absalom het ’n man doodgemaak en gevlug omdat hy bang was vir sy pa, koning Dawid. Drie jaar later daag Absalom op met ’n magtige weermag om sy pa se kroon weg te neem. Dawid was getrou aan hom maar Absalom was gierig en dislojaal teenoor sy eie pa.
Dawid moet vlug vir sy eie lewe en in daardie tyd kom Ittai op die toneel wat eintlik maar ’n huursoldaat was en ’n weermag van 600 mans gehad. Hy het geen belang gehad teenoor Dawid en sy kroon nie. Dan lees ons in:
2 Sam. 15:19-20 “…vra hy vir Ittai, die leier van die manskappe uit Gat: “Hoekom kom jy saam met ons? Gaan terug met jou manne na koning Absalom toe, want jy is ‘n uitlander, ‘n vreemdeling in ballingskap. Jy het maar kort gelede hier aangekom. Moet ek jou dan laat rondswerf terwyl ek nie weet waarheen ons gaan nie? Gaan gerus terug en neem jou manskappe saam met jou, en mag die Here se goedheid en trou met jou wees.” NLV
M.a.w. hier is vir jou ’n ‘Kom gratis uit die tronk’ kaartjie. Hierdie is nie jou ‘battle’ nie, moenie jy of jou manne seerkry in ’n saak wat julle niks aangaan nie. Maar kyk hierdie lojaliteit:
2 Sam. 15:21-22 “Maar Ittai antwoord die koning: “So waar as die Here leef en u lewe, waar my heer die koning ook al is, daar sal ek ook wees, in dood of in lewe.” Dawid het geantwoord: “Goed dan, kom saam!” NLV
Nie net het hy sy lojaliteit met woorde geuiter nie, nee, hy het sy 600 mans in ’n oorlog gelei om saam met Dawid te staan. Later het Dawid hom in bevel van ⅓ van sy manskappe geplaas omdat hy betroubaar gevind is.
Sy lojaliteit was nie voorwaardelik nie, dit was vir ewig.
Aangesien meeste van ons basies lojaal is, wil ek bietjie duiwelsadvokaat speel:
As jy ooit dislojaal is in watter areas dink ek sal dit waarskynlik wees:
Areas waarin ek dislojaal kan wees:
1. Teenoor jou eggenoot (spouse)
Nou ek weet daar is omstandighede ens. ens. en ’n mens moet ook weet vir watter rede die huwelik in die eerste plek ingestel is maar kyk wat sê die Here se woord:
Mal. 3:15 “Het die Here dan nie man en vrou een gemaak nie, een in liggaam en gees? Hoekom het Hy hulle een gemaak? Omdat God wou hê daar moet kinders vir Hom voortspruit. Wees op julle hoede. Moenie ontrou wees aan die vrou van jou jeug nie.” NLV
Het God nie twee mense een gemaak nie? Is dit oudmodies en outyds?
Hoekom sê God hierdie goed?
Mal. 3:16 “Die Here, die God van Israel, sê: “Ek haat egskeiding! Om te skei is net so gewelddadig soos om ‘n slagoffer se bebloede baadjie aan te trek.” Die Here, die Almagtige, sê: “Wees verantwoordelik en moenie ontrou wees nie!” NLV
Hoekom ons steur aan hierdie vers? Ek meen, God leef mos nie in hierdie post moderne era nie. Wat weet Hy?
Onthou ek speel duiwelsadvokaat, want julle is mos basies lojaal.
40-60% mense erken dat hulle op een of ander stadium ontrou was aan hul eggenoot.
So as jou vrou jou nie gelukkig maak nie, dan kan jy maar die belofte breek wat jy gemaak het. Dit is soos wat Tannie Sussie wat al meer as 60 jaar getroud is vir my sê, sy het nog nooit aan egskeiding gedink nie, moord ja, maar nog nooit egskeiding nie.
Kom ons maak dit so bietjie kleiner. Hoe dink jy oor ander mans, oor ander vrouens.
Mans, hoe kyk jy na ander vrouens? Sal jy presies dieselfde optree teenoor haar as jou vrou by jou was?
Hoe verkleineer jy jou maat dalk voor ander mense?
Sien dit is die wonderlike van ’n grap. Jy kan ’n mes toedraai in ’n sagte lappie en al wat jy na die tyd hoef te sê is, ek het net ’n ‘joke’ gemaak, maar intussen druk jy hom in die rug.
Vrouens, hoe trek jy aan, of is jou siening, ‘I’ve you got it, then show it.’
Daar is soveel maniere hoe jy dislojaal in jou huwelik kan wees.
Maar hier is die kort toets: Enigiets wat jy voor jou huwelik of jou familie sit, is dislojaal teenoor hulle. Dit kan in jou gedagtes wees, dit kan in jou dade wees.
2. Vriendskappe
Spr. 17:17 “Op ‘n vriend se lojaliteit kan jy altyd reken. Jou broer is gebore om jou te help wanneer daar probleme is.” NLV
Is ons regtig daar vir mense wat ons hulp nodig het of praat ons maar net daaroor.
’n Baie goeie manier om dislojaal te wees in jou vriendskappe is om oor hulle te praat wanneer jy in ander se geselskap is.
“Kan jy glo hoe hulle geld spandeer? Kan jy glo hoe hulle…? Hulle huwelik is nie…?
Skinder oor hulle. Of luister na ander se stories.
‘n Ander manier of dislojaal teenoor jou vriende te wees is om hulle nie die waarheid te vertel nie. En hier duik meeste van ons in die hek.
Ons sal eerder die vrede bewaar as om iemand vir wie jy lief is, jou eerlike mening te gee.
As jy nog nie nodig gehad het om jou vriend / vriendin vir iets te vergewe nie is die kans goed dat jy nog nooit eerlik en opreg teenoor hulle was nie.
As dinge te warm vir ons raak, dan stap ons net weg. Dit is dislojaal.
3. Teenoor die Kerk
En hier bedoel ek Kerk met ’n hoofletter en kerk met ’n kleinletter.
Die Kerk van Jesus Christus en die kerk, gemeente waaraan jy behoort.
Die eerste gelowiges was fanaties oor Jesus en teenoor mekaar gewees.
Hierdie goed krap ons so bietjie om vandag, ek meen, dit is mos elke ou vir homself.
Maar hierdie eerste volgers van Jesus was fanaties, dit was nie Jesus tot Hy of die Bybel jou so bietjie ongemaklik maak nie. Nee, dit was Jesus of niks. Ons dink hierdie was mal mense.
Acts 2:42 “They committed themselves to the teaching of the apostles, the life together, the common meal, and the prayers.” Message
Hulle het hulself ‘commi’t vir wat? Ek meen wie het tyd vir hierdie goed? Die lewe is te besig, ‘things to do, places to go to.’
Hulle het na die leiers geluister, saamgeëet, die lewe saam ervaar, saam gebid.
Hulle was hierdie mal groepie mense wat hulle lewens diep met ander gedeel het. Wat saam met mekaar geëet het, hulle besittings met mekaar gedeel het. Ek meen waar is dit ‘fun’ daarin? Hulle kon nie met mekaar baklei nie, met mekaar verskil nie, verdeeldheid gebring het met elkeen se agenda nie…?
Wat is hierdie eenheid storie? Dit is outyds, niemand wil dit meer vandag hê nie.
Hand. 2:45 “Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte.” NLV
Dit klink mos soos kommunisme? Ek meen, ons leef in moeilike tye, meer vir jouself baby, dit is die manier om dit te doen.
Hand. 2:46 “Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die maaltyd van die Here gevier, en hulle kos met jubelende blydskap en in alle opregtheid geëet.” NLV
Is dit nie bietjie vêrgesog nie? Dit was ’n daaglikse commitment aan mekaar.
Om een of ander rede vind baie van ons dit moeilik om ’n een keer ’n week commitment aan mekaar te maak om saam te eet of die lewe saam te doen.
Dit is wat ek sien as dislojaal teenoor jou kerk. As ek nie my plek inneem in die liggaam van Christus wat ek veronderstel is om te wees nie, werk ek nie saam tot die eenheid nie.
Ons het ’n oordrewe verbruikersingesteldheid. As ek nie hou van iets nie, as iets my nie pas nie, as ek nie lus is vir iets nie. Los dit, daar sal ander wees wat dit doen.
Die kerk is nie ander mense wat om jou sit nie. Die kerk is nie ’n gebou nie.
Die kerk is jy. En as mense daar buite na jou lewe kyk, watter prentjie van die kerk sien hulle? Sien hulle iemand wat committed is aan die liggaam of sien hulle iemand wat maar doen waarvoor hy / sy lus is, as dit hulle pas.
Ons is basiese lojale mense, maar ons is basies lojaal teenoor ONSSELF.
Waar kom dislojaliteit vandaan?
Alle dislojaliteit word gebore uit ’n verdeelde hart.
Dink daaroor, die oomblik wat jou hart net vir so oomblik op ’n ander plek is, is die oomblik wat jy dislojaal raak teenoor dit wat belangrik is.
En wie is die mees lojaalste persoon in die heelal? God. Selfs wanneer ons sy hart breek met ons ontrouheid, ongehoorsaamheid, dislojaliteit, bly Sy liefde getrou.
2 Tim. 2:13 “If we give up on him, he does not give up-for there’s no way he can be false to himself.” Message
En hier is wat God van ons vra: ’n onverdeelde hart.
Kom ons wees eerlik vir ’n oomblik, kyk maar na enige area van jou lewe waar jou hart verdeel is en jy sal begin raaksien waar jy dislojaal geraak het.
Daarom wil ek afsluit vandag deur jou te vra: Kyk eerlik en hard na jouself en antwoord jouself: waar het jou hart verdeeld geraak?
Waar was jy meer lojaal teenoor jouself as teenoor die persoon(e) wat God in jou lewe gebring het? Dalk jou huwelik? Dalk jou vriendskappe? Dalk jou kerk?
Die Here se boodskap aan elkeen van ons vandag is: Moenie ’n verdeelde hart hê nie.
Maak jou belofte, jou commitment, jou hart, weer vas aan die geskenke wat God vir jou gegee het.
Wees lief vir God met jou hele hart, krag en verstand.
En die om jou naaste, HOE lief te hê / lojaal te wees? Soos teenoor jouself.
Wees so lojaal teenoor hulle, soos wat jy aan jouself is.